10 Winter Wenke
- koebergerkoerant
- Jul 28, 2019
- 2 min read
Deur Simoné van Eden
As jy die afgelope Antarktiese week oorleef het, is jy halfpad daar! Ongelukkig lê ʼn hele maand van diep winter nog voor. Indien jy deel van die minderheid is, wat wind en reën met somersdrag kan aandurf, is jy geseënd. Indien nie, is jy op die regte plek. Die Koeberger het ʼn paar wenke om die uiterse omgewingstoestande te oorleef:
1. Laag op laag op laag...
Begin met die kortmou hemp, dan die langmou hemp, skoolhemp, pullover, trui, blazer, reënbaadjie, serp en handskoene. Staan tog net 10 minute vroeër op om die proses betyds klaar te maak voor die skoolklok lui. Nege lae is nie kinderspeletjies nie.
Onthou, dubbel sykouse is amper “leggings”. Amper. Ouens, niemand sal eers die ekstra broek onder die lang skoolbroek raaksien nie.
2. ʼn Warmwatersak is jou nuwe beste vriend.
Steek dit weg onder jou trui en hoop niemand vra presies hoé baie jy pouse geëet het nie.
3. Migreer.
Nee, nie nader aan die ewenaar nie – net na die gange toe. Moenie dit waag om pouses buite te spandeer nie. As jy eers koud is, word jy nie weer warm nie.
4. Begroot om die koffiekarretjie ten minste een keer ʼn dag te besoek.
Andersins moet jy maar hoop jou fles maak dit verby register periode.
5. Maak oop die venster!
Wanneer die keuse tussen ʼn winter windjie of ʼn broeikamer vir kieme is, bly koud kry die beste opsie.
6. Vitamiene sal jou nie seermaak nie.
Moeders is meestal reg. Of jy dit nou wil erken of nie: vitamienpille proe definitief beter as hoesstroop.
7. Pak maar die snesies in.
As jy nie die vorige twee wenke gevolg het nie is verkoue jou voorland. In daardie geval sal die pakkie tissues jou 6 ure se snuif en vuil kyke van mede-klasmaats spaar.
8. Wees jou eie verwarmer.
Oefening draai jou ingeboude verwarmer se knoppie tot by sy maksimum. Draf sommer op een plek as jy moet!
9. Isolasie is belangrik.
Somerslywe mag dalk in die winter gemaak word, maar jy moet eers die winter oorleef voor ʼn somerslyfie enigsins gaan saak maak.
Comments