top of page

SOS!

  • Writer: koebergerkoerant
    koebergerkoerant
  • Jul 28, 2019
  • 3 min read

Deur Kayla Lourens en Kaylie Hönicke


Vir die Matrieks is die September (rekord) eksamen byna hier… Ja, dis tyd om die afgelope 12 jaar se werk te leer dat dit letterlik by jou ore uitborrel. Dis ook nou die tyd wat jy vir jou jonger self oneindig dankbaar moet wees (of dalk vreeslik kwaad) oor jou harde werk gedurende die afgelope 12 jaar. Dis maak of breek. Ongelukkig is ek bevrees dat nie almal wel so pligsgetrou gewerk het nie en sien ek baie 3vm. slaaptye, hope boeke wat veroorsaak dat jy nie eers in jou eie kamer kan rondstap nie en ’n vrees vir die eksamen wat kom. So om jou “mood swings” ’n bietjie in toom te hou en te keer dat jou deur se skarniere heeltemal meegee soos jy dit permanent toeklap, het Die Koeberger ’n oorlewingslysie opgestel wat jou hopelik sal help om min of meer kop bo water te hou tydens jou 2de laaste skooleksamen:


1. Som voor die tyd op. Jy gaan in die meeste vakke oor al graad 11 en 12 se werk skryf en dus gaan jy nie tyd hê om ’n dag of twee (of 3) voor die eksamen lekker te sit en opsom nie. As jy vandag begin en stukkie vir stukkie elke dag deur dit werk, gaan die werklading sommer baie minder lyk en gaan jy nie oorweldig voel wanneer die eksamen wel aanbreek nie (wel, jy sal MINDER oorweldig voel…)


2. Wanneer jy leer of opsom, los papiertjies (of maak sterretjies) waar jy ’n bietjie gaan rus. Studies het getoon dan mense wat in intervalle leer (dus 40 min leer, 10 min rus… ensovoorts) baie meer uitrig en ook beter presteer as diegene wat 8 ure op ’n slag alles probeer leer die dag voor die tyd.


3. Indien daar ’n paar dinge (dalk is dit formules in skeinat of datums in geskiedenis) is wat jy nie so lekker kan onthou nie, maak vir jou mondelingkaartjies waarop jy dit kan neerskryf. Hou dit in jou skoolbaadjie se sak en gaan dit deur terwyl jy nie besig is nie. Hoe meer jou brein iets sien, hoe beter onthou jy dit.


4. Plaas jou foon in ‘n ander kamer of gee dit vir jou ma om te hou. Dit is soos sjokolade wanneer jy op ’n dieet is: as jy dit nie kan sien nie, sal jy nie in die versoeking kom om dit te gebruik nie. Nog ’n goeie idee is om sosiale media soos Instagram (tydelik) te delete voor eksamen.


5. Eet kos wat vitamiene en minerale bevat – suiker gaan niks anders verrig as om jou aandag af te lei nie. Neute staan ook nie verniet bekend as “breinkos” nie, so kom in die gewoonte om gesond te eet. Jou liggaam sal jou beslis net bedank (met beter punte, natuurlik… J). Drink ook baie water.


6. Probeer om ’n minimum van 7 ure per nag te slaap. Alhoewel 8 ure die mikpunt is weet ons almal dat dit nie altyd kan realiseer nie – en as jy nie klaar geleer is nie, slaap dan asseblief tussen 11 nm. en 3 vm. – dit is die tyd waarin jou liggaam die meeste herstel en nuwe selle vervaardig (algemeen bekend as die “deep sleep” fase). Stel dan eerder 600 alarms vir 3 vm. en leer tot 7 vm.


7. As jy sukkel met ’n sekere deel van ’n vak, reël ‘n groep studiesessie. So kan julle mekaar help om sekere onderwerpe te verstaan – om aan jou klasmaats werk te verduidelik help om jou eie kennis vas te lê en dit help jou vriend of vriendin ook, want volgens studies onthou jy ’n konsep beter wanneer iemand van jou ouderdom werk aan jou verduidelik as wat ’n onderwyser dit sou doen.


8. Werk ou vraestelle uit. Sodoende raak jy gewoond aan die manier waarop vrae gevra word en jy sal die slaggate kan uitken in die eksamen, hulle kan beantwoord en kan aangaan na die ander somme of vrae toe.


9. Leer met kleur en prentjies. Jou brein maak assosiasies met sekere kleure en prentjies en dus sal jy die werk beter onthou.


10. Wees aktief. Hardloop om die blok of gaan na skool gym toe – oefening stel endorfiene vry (die goedvoel-hormoon) en jy sal baie beter voel wanneer jy daarna weer voor jou boeke sit.


11. Wanneer jy oorweldig raak en voel asof jy net op jou bed wil gaan lê en huil, huil. Wanneer jy huil ontlaai jy jou frustrasies en binne ’n paar minute (of selfs sekondes) sal jy jou trane afvee, opstaan en jou leerwerk met nuwe wilskrag aanpak. En onthou net: jy is NIE alleen nie. Nooit nie. En ons almal gaan heeltemal “OK” wees!




Comments


© 2018 by Die Koeberger. Proudly created with Wix.com

bottom of page