top of page

Die gevreesde “N” woord – die NBT’s

  • Writer: koebergerkoerant
    koebergerkoerant
  • Jul 28, 2019
  • 2 min read

Deur Runé du Plessis en Kayla Lourens


Na omtrent 16 uitmergelende eksamens is dit uiteindelik vakansie! Jy val na skool op jou bed neer… maar dan besef jy jy is in matriek… en dat jy weer moet leer… want daar is een spesifieke Saterdag wat eers verby moet gaan - die gevreesde Nasionale Maatstaf Toetse.


Vir die wat ook beplan om twee dae voor die tyd ’n semi-hartaanval te kry terwyl jy verwoed jou wiskunde boeke probeer opspoor nadat jy hulle baie goed weggesteek het na die eksamen, is hier ’n paar wenke om die proses ’n bietjie minder vreesaanjaend te maak:


Berei jouself voor vir ‘n baie (nee, geen oordrywing hier nie) uitputtende dag- ‘n dag wat omtrent half ag begin en heel waarskynlik eers na half 4 eindig. So moenie dink dit is hiperbolies is as iemand jou waarsku, “slaap genoeg” nie.


Die dag word verdeel in 2 gedeeltes - 2 vraestelle van 3 ure elk. Die oggend begin met ‘n Wiskunde en Afrikaanse geletterdheids toets (AL en QL). Die toets self bestaan uit 7 kleiner afdelings wat elkeen sy eie tydlimiet het. Altwee vraestelle is veelkeuse vrae (ongelukkig bestaan die Afrikaanse gedeelte uit 4 antwoorde wat omtrent presies dieselfde klink, maar vertrou net jou instink). Die middagsessie is die Wiskunde vraestel (MAT) wat sonder ‘n sakrekenaar aangepak moet word. Fokus gerus op funksies. Die werk wat ook eers na die Junie-vakansie in die skool behandel word, word nie gereeld gevra nie.


Maak seker om te kyk of die Universiteit en jou kursus van jou vereis om beide vraestelle te skryf. Elke universiteit het ook verskillende vereistes in terme van afsluitingdatums. Jy sal wel nie kan skryf sonder jou ID nie (neem ook jou bewys van betaling saam). Jy kan uitstap sodra jy klaar geskryf het en aangesien jy seker nie baie graag ‘n uur wil wag voordat jy opgetel word nie (want jy weet nie of ‘n gans jou dalk in daardie tyd gaan aanval nie), maak maar seker jou foon is nie pap voordat die dag nog begin het nie.


Besoek gerus hierdie webtuiste om jou toets te bespreek of om meer te lees oor wat die toetse presies behels:



En die belangrikste wenk is: die woord NBT’s hoef darem nie in werklikheid gevrees te word nie.




Commentaires


© 2018 by Die Koeberger. Proudly created with Wix.com

bottom of page