top of page

Die reusagtige sprong van Graad 9- tot Graad 10- Wiskunde

  • Writer: koebergerkoerant
    koebergerkoerant
  • Jul 28, 2019
  • 2 min read

Deur Louwrens Wessels


Om van graad 9 te spring na graad 10, is oor die algemeen ‘n aanpassing. Jy is nou ‘n senior en skielik is al jou vakke moeiliker en die kapasiteit aansienlik meer. Wiskunde is oor die algemeen vir baie kinders ‘n breinbreker en ‘n nagmerrie.


As gevolg hiervan, kry leerders die geleentheid om in graad 10 van Wiskunde na Wiskunde Geletterdheid te skuif waar die kapasiteit minder is en die werk makliker. Die feit bly staan dat Wiskunde ‘n baie belangrike vak en ‘n vereiste vir baie loopbane is, daarom neem die meerderheid van die leerders dit steeds.


Die leerders wat Wiskunde neem, vind dit oor die algemeen moeilik om aan te pas. Die rede hiervoor is nie net omdat die kapasiteit van die Wiskunde meer raak nie, maar die werk ook moeiliker.


Vraestelle word baie anders opgestel as in graad 9 en is dus aan die begin onbekend vir die leerders. In ‘n graad 10-vraestel word daar meer Vlak 3 en Vlak 4-vrae gevra as in jou graad 9-vraestel. Dit beteken dat jy gedwing word om verder te dink en alles is nie meer so voor die hand liggend nie. Die werkstempo tel ook van graad 9- na graad 10- wiskunde op en baie kinders maak die fout om dit te onderskat en raak dan agter.


Ekstra Wiskundeklasse is gewoonlik die eerste oplossing waarna ouers en leerders spring wanneer die punte nie lyk soos wat verwag is nie. Alhoewel ekstra Wiskundeklasse ‘n uitstekende belegging kan wees, betaal ouers deesdae deur hulle nekke om hulle kinders se skedules, wat reeds oorvol is, vol ekstra klasse te pak. Tog is dit nie noodwendig nodig nie. Ekstra Wiskundeklasse is nie altyd die enigste oplossing nie en soms is harde werk al wat dit verg.


Die realiteit is dat daar altyd iets in die lewe gaan wees wat jou ‘n bietjie sal uitdaag en onkant kan betrap. Alhoewel die sprong tussen graad 9- na graad 10- Wiskunde nie ‘n grap is nie, is dit net goeie voorbereiding.

Comments


© 2018 by Die Koeberger. Proudly created with Wix.com

bottom of page