Metro-Noord “Taal Spel”
- koebergerkoerant
- Aug 4, 2019
- 7 min read
Kayla Lourens en Amor van Greunen het Saterdag, 27 Julie 2019, aan die Metro-Noord Afrikaanse kompetisie vir graad 12’s deelgeneem. Amor het eerste geeÏndig en Kayla derde. Hulle belowe egter om die Stellenberg meisie wat tweede is te wen in die tweede rondte. Die Koeberger het ’n bietjie gaan ondersoek instel oor wat regtig die oggend van Saterdag, 27 Julie 2019, gebeur het.
1- Wat is jou sleutel tot sukses in Afrikaans?
Amor: My antwoord is redelik cliché, maar dit is regtig lees en skryf. Wanneer ek skryf, gebeur dit soms dat die regte woord in Engels in my gedagtes spring. Wanneer dit gebeur probeer ek altyd om die Afrikaanse alternatief op te spoor. [Hierdie sou dalk minder met my gebeur het as ek Engels en Afrikaans in my brein geskei het - minder tale meng.] Dus leer ek nuwe woorde aan en nuwe maniere om myself uit te druk.
Kayla: Omtrent die 2de dag van skool in graad 8 het die hele graad ’n brugtoets geskryf. Die vrae was bietjie moeiliker as dit wat ons op laerskool geleer het en ek het 72% daarvoor gekry. Me. Nell was my juffrou en sy het ewe kwaai my ingelig dat ek, bygesê as ek my dood werk, dalk ’n A (80%) kan behaal vir my eindeksamen in matriek. Net daar besluit ek toe ek gaan hierdie juffrou wys… Ek het in Gr.8 dus alle taalreëls onder die son geleer en dus hoef ek nie regtig meer te leer vir Afrikaans nie en kan ek net die moeiliker begrippe hersien. Dankie Juf. Nell!
2- Dink jy lees hou enigsins verband met prestasie in Afrikaans?
Amor: Definitief. Ek dink lees is die sleutel tot sukses in enigiets. Wanneer jy fiksie lees, verbreed jy jou verbeelding en in nie-fiksie jou kennis. Selfs dokters moet gereeld lees om van nuwe medikasie en behandelinge kennis te neem. Lees brei ook jou woordeskat uit. (Indien ek ‘n woord lees wat ek nie die betekenis van ken nie, probeer ek altyd om dadelik die betekenis op te spoor. Jy leer nie net nuwe woorde nie, maar dit help vir jou om die storie beter te verstaan.)
Kayla: Absoluut. Ek is iemand wat van ’n baie jong ouderdom al mal is oor lees en Afrikaans kom nog altyd vir my natuurlik. Engels is wel vir my soms ’n bietjie moeilik en deur Engelse boeke te lees het die taal, die spelling en nuwe woorde vir my meer natuurlik begin kom.
3- Wat kan leerders wat nog nie die lig op die horison sien nie doen om te presteer?
Amor: Ek sou aanbeveel dat hulle met poësie begin. Dit is waar my dieper liefde vir Afrikaans posgevat het. Begin deur dit met jou onderwyser te ontleed (en nie net die woorde neer te krap sonder om hulle te verstaan nie) en uiteindelik sal jy dieper kan delf in Afrikaans. Wanneer dié dieper verstand iemand tref, sal hulle onmiddellik boeke nader trek en vinnig ‘n styging in hulle punte ervaar.
Kayla: V1 = Niemand het ’n verskoning om nie volpunte te kry vir die begripstoets nie, al die antwoorde staan letterlik in die leesstuk. Die opsomming uit 10 uit is ook 10 punte wat enigiemand baie maklik kan kry. Leer dan net AL jou taalreëls – as jy dit eers ken, vergeet jy dit nie sommer gou weer nie. V2 = Let op in die klas! Ja, ek weet jy dink jou onderwyser is net besig om ’n klomp nonsens te praat en simboliek uit te dink wat die skrywer nooit eers self aan gedink het nie, maar dit is ongelukkig vir jou ook wat in jou vraestel se memo gaan staan. Deur op te let in die klas leer jy die karakters ken en die leerwerk is dan minder.
4 – Wie is die onderwysers wat jou van graad 8 tot graad 12 in Afrikaans help groei het?
Amor: In gr. 8-9 was ek by me. Van Wyk. Dit is hier waar die saad van Afrikaans geplant is. In gr. 10 was ek by me. Nel wat vir my die waarde van poësie geleer het en in gr. 11-12 was ek by me. Van Heerden. Sy het vir my die vaardigheid van dieper delf in stories (en nie net in gedigte) aangeleer. Ek is dankbaar dat ek by die wonderlike mense kon klas hê. [Alhoewel ek nie by me. Uys Afrikaans het nie, moet ek sê dat sy regtig my gehelp het om my kreatiewe Afrikaans te ontwikkel.]
Kayla: Ek was Gr.8-9 by juf. Nell en sy het – soos julle almal nou weet – my taalreëls laat leer dat dit letterlik by my ore uitgekom het. In graad 10 was ek by Juf. Burger en Gr. 11-12 by juffrou Van Wyk. Sy is iemand wat ek as jong graad aggie met my hele lewe gevrees het (ek dink die vrees was nog steeds daar toe ek in graad 11 in haar klas kom), maar vandag kan ek sê dat ek werlik haar sagte kant leer ken het en dat haar aansteeklike passie vir die taal, asook haar vertroue in haar kinders my beslis geÏnspireer het om altyd my beste te wil gee.
5 - Wat is die moeilikste deel van die taal vir jou?
Amor: Snaaks genoeg is skryfwerk vir my die moeilikste gedeelte, maar dis ook my gunsteling. Ek moet geïnspireer voel om iets ordentlik te skryf en dit gebeur gereeld dat dit net nie tydens kreatiwiteitsvraestelle of -take gebeur nie. Omdat ek nie geïnspireerd voel nie, hou ek nie van wat neergepen word nie. Dit lei tot ‘n afname in die kwaliteit van wat geskryf word en is vir my die moeilikste gedeelte. Die skryfproses is moeilik om te handhaaf.
Kayla: Taal. Ek weet nie hoekom nie, maar ek verloor altyd ten minste 10 punte in die taalafdeling van vraestel 1. Juf. Van Wyk het my egter verseker dat ons hieraan gaan werk – ek sal haar towerresep deel ná die eindeksamen (dis nou as ek wel beter doen dan…).
6- Het jy verwag om in die top 3 te eindig? En het jy enige voorbereiding gedoen?
Amor: Ek het nie verwag om in die top 3 te eindig nie. Ek het dit nie verwag nie, want ek het skaars 3 dae voor die kompetisie uitgevind ek neem deel. Dus was daar nie regtig tyd om te dink oor wat moontlik kon gebeur nie. Ek het ook nie regtig voorberei nie. Ek was bietjie onkant betrap en het nie baie tyd gehad daarvoor nie - ek was ook nie heeltemal seker wat die kompetisie behels nie. Gelukkig was Kayla slim genoeg om haar boek in te pak. Ek en sy het ‘n vinnige “crash course” op pad daarheen gehad en tydens registrasie ook ‘n bietjie geleer. Sonder daardie sou ek definitief nie deurgekom het nie.
Kayla: Haha… absoluut 100% nie! Alhoewel juffrou Van Wyk my amper elke dag ingelig het dat ek “baie hard moet leer”, was die week voor die kompetisie mal en het ek eintlik net gehoop sy vergeet om vir my te vra hoe dit gegaan het… Ek het egter Saterdag toe ek my skoolklere aantrek ’n bietjie skuldig begin voel en toe maar wel my baie dik werkboek gegryp. En hier kom die spanwerk aspek van die hele situasie in: Amor het bestuur en ek het in 20 minute die hele Afrikaanse sillabus in vreeslike detail (en met die hulp van baie vreemde sinne en rympies) aan haar verduidelik. Dit staan vandag bekend as Kayla se “Crash Course” en word (teen betaling, natuurlik) op aanvraag pouses deur my en Amor aangebied (soos julle almal kan sien bereik mense wat hierdie crash course neem nuwe hoogtes in Afrikaans… né Amor). En ek het glad nie verwag om in die top 3 te eindig nie – ek kon nie eers skêr reg spel nie…
7- Wat gaan jy doen om voor te berei vir die 2de rondte?
Amor: Me. Van Wyk het aangebied om vir ons voor te berei deur vir ons ’n ekstra klas aan te bied en vraestelle te gee om deur te werk. Ek dink wel ons wenresep van voorbereiding is definitief Kayla se “crash course” en ek beplan om weer een op 31 Augustus te hê.
Kayla: Juffrou Van Wyk het aangebied om vir ons ekstra klasse te gee. Ons gaan ook (dalk… haha) ou vraestelle uit werk… maar die werklikheid gaan seker wees dat ons ‘n “Kayla Crash Course” in die kar oppad na die 2de rondte toe gaan hê…
8- Hoe het dit gevoel om saam met soveel ander skole se top Afrikaans-studente deel te neem? Was jy angstig en hoe het jy dit onder beheer gekry?
Amor: Dit was ’n vreemde atmosfeer. Daar was onderliggende spanning tussen almal, want ons was tog by ’n kompetisie, maar meeste van die leerders was ongelooflik vriendelik. Ek was ook vreeslik angstig. Ek wou nie ons skool se naam deur die modder sleep nie. Ek het myself per ongeluk kalmeer. Ek het dit reggekry om myself só te verneder voor die tyd dat ek en Kayla nie kon ophou lag nie. Vanaf dromme amper breek tot me. Steenkamp antwoord met ’n “Uuuhmmmm” kon ek nie veel meer doen as lag nie. Dus kon ek nie regtig stres nie, want ek het te hard probeer om my uitbundige lag onder beheer te kry.
Kayla: Wel… dit was redelik vreesaanjaend, moontlik te danke aan die feit dat letterlik alles wat moontlik kon verkeerd gaan met my en Amor verkeerd gegaan het. Toe ons vir juffrou Steenkamp probeer groet het, het Amor heel stylvol die drom omgeskop en toe ons na die prente wat teen die mure opgeplak was staan en kyk het, kon ek eintlik niks sien nie, want ek het my bril in die kar vergeet… Ons het ook ten minste 12 keer verby die ander vakadviseur gestap (sy het ons bietjie vreemd begin aankyk na die 3de keer) en ek en Amor was die enigste mense wat tot die einde van die tyd toe geskryf het. Ons het dus ook veroorsaak dat juffrou Steenkamp nie middagete gehad het nie, want toe ons so lank vat het sy die opsiener ingelig “Jy kan maar gaan, ek sal hier by die tweetjies bly tot hulle eendag klaar is.”
Kayla en Amor hoop van harte dat hulle nie vir Maandag se Afrikaanse moderering deur hierdie twee belangrike mense voor wie hulle hulself so verneder het, gekies gaan word nie…

Comments