top of page

“Up, up and away...”

  • Writer: koebergerkoerant
    koebergerkoerant
  • Oct 8, 2018
  • 4 min read

Kayla Lourens


Soos wat ek moedeloos na my biologiehandboek se eerste bladsy staar en die sweetdruppels oor my voorkop dans, hoor ek die gedreun van ‘n vliegtuig en skielik is die prosesse van proteiensintese en meiose baie, baie ver weg vanaf my denke...






Ek gryp my foon - wat dalk NIE langs my moet lê terwyl ek probeer leer nie - en begin vlugte ‘Google’. Die WWW neem my na Parys.

***

Ek volg die sortie teken en gee my eerste tree op Franse grond buite die Charles de Gaulle Internasionale lughawe. Buite dwarrel die sneeuvlokkies en ‘n paar kielie my gevriesde neus. Ek draai my serp stywer om my nek en laat al die Taxi’s verby my ry. Ek is nie hier om my geld te mors nie - so ek loop gly-gly oor die besige paaie tot by die naaste METRO-teken. Die METRO is Frankryk se ondergrondse spinnerak wat die hele land verbind. Die treinritte is ook nie té geldvretend nie en dit kan jou na enige bestemming in enkele minute (of selfs sekondes) neem.

Nadat ek die trappies afgesukkel het met my oorlaaide tas soek ek die kaartjiemasjien. Ek kies die English opsie en koop die pakket van 10 kaartjies - dit werk baie goedkoper uit as om ‘n individuele kaartjie vir €2,50 te koop. Ek vra vir die suur Franse tannie agter die toonbank in die stasie vir ‘n metro-kaart, want sonder dit voel jy soos ‘n miertjie in ‘n oerwoud. Of soos ‘n stofkorreltjie in New York. VERLORE. Ek soek die eindpunt van my METRO-lyn en volg die borde wat my na daardie platform lei. Maak ook ‘n ooreenkoms met jou medereisigers om mekaar by die volgede stop op die lyn te ontmoet indien iemand agterbly by die stasie... Die treine se deure gaan nie vir jou wag nie - wanneer hulle toemaak... Maak hulle toe! In die trein kyk ek na die liggie wat aandui by watter stop ek is (of luister na die aankondigings in die trein indien jy Frans kan praat).

Ek klim af by my bestemming en stap die bult uit na my “appartement” toe. Die eienaar van die plekkie wys vir my rond - hy verduidelik vir my selfs hoe die toliet werk... Dit gebeur nogal dikwels, want blykbaar dink alle Europeërs dat ons so minimalisties leef soos die Gr.11’s op die roeitoer. Maak seker jy vra vir die WIFI sleutelwoord om ‘n straatkaart te “save” op jou foon of tablet. Anders mag jy dalk die hele tyd in jou blyplek sit indien jy nie ‘n kompas ingepak het nie. (Ek twyfel sterk dat enigiemand sou...)

Dit is -11*C buite so ek trek my 11 lae klere aan. Moet ook nie die verkoopsmense in Cape Union Mart vertrou wat vir jou sê dat een thermal top, ‘n fleece top en een k-way Down-baadjie jou gaan beskerm teen “frostbite” nie. Op my eerste reis het ek geleer dat ek al my klere in my tas - ja, LETTERLIK alles - moet aantrek en dan kry ek steeds koud. Koop vir jouself maar ‘n lekker snoesige jas by Zara - daar is permanent uitvetkopings en die R1000 is definitief die moeite werd. Maak ook seker jou skoene is waterdig as jy verkies om nie na 4 ure buite met twee ysblokke vir voete oor die weg te kom mee nie. Met 3 pare handskoene, 2 pare sokkies, 2 broeke en ‘n wolmus op my kop is ek uiteindelik gereed om die groot staalhandvatsel van die “appartement”-blok se voordeur te draai.

Ek gebruik my eerste metro-kaartjie en die ondergrondse spinnerak spoeg my uit by Trocadero. Ek klim die 65 trappies uit en daar staan dit. Lewensgroot. Ek kan byna nie glo dat mense die staalwonder wou afbreek in die verlede nie. Die Franse mag dalk dink dit is lelik, maar ek is tot vandag toe nog verstom oor al die detail wat die raamwerk bevat. Nadat ek meer as 11 foto’s per sekonde geneem het staan ek uiteindelik in die sekuriteitslyn om die gronde van die Eiffel-toring te betree. In die verlede was die grond oop vir enigiemand om deur te loop, maar onlangs is daar hekke om die toring opgesit om mense wat op die toring klim en selfbom-groepe te verwyder. Jy en jou sak word nou eers deursoek. Daar staan selfs polisiemanne in die kleedkamers wat jou aangluur wanneer jy van hul toiletgeriewe gebruik maak. Redelik onaangenaam...

Later die aand stap ek met ‘n glimlag verby al die restaurantjies en koffieplekkies. (Maak seker jy hou hou handsak en enigiets wat jy by jou het vreeslik styf vas. Die Franse diewe skrik nie vir koue pampoen nie. Ek het tydens my vorige besoek ‘n selfie geneem en op die een foto is die dief besig om my sak te steel!) Dit is mooi om na te kyk... Maar die pryse is dikwels minder mooi. So ek gaan na die naaste supermark en koop vir my allerlei franse brode en lekkernye wat ons nie in Suid-Afrika kry nie.

Terug by my blyplek dink ek terug aan die dag en ek besef dat ons en ons probleme eintlik maar net ‘n baie, baie klein spikkeltjie in die heelal van wonderlike ervaringe is. ‘n Geskree in my ore laat my oë oop fladder.



“Ooo... Ja, mamma... Ek het net gou navorsing gedoen oor hierdie sel goeters.” Ek gooi verskrik my foon neer en tel met ‘n sug my biologiehandboek weer op. Bladsy 2. Laat ek verder leer.

 
 
 

Comments


© 2018 by Die Koeberger. Proudly created with Wix.com

bottom of page